31/03/2025
A Letter From A Client: (Dankie Linet!)
My Pilates Journey
“If you aren't willing to look like a foolish beginner you will never become a graceful master.”
Ek besluit om dit prakties toe te pas in my lewe. Ek begin met my navorsing en vinnig vind ek waarna ek soek. ‘n Pilates studio. Met hulle app kan ek klasse bespreek soos en wanneer dit my pas – ek love die flexibility (heel ironies vir iemand wat glad nie flexible is nie).
Dag 1 breek aan.
Ek probeer gemaklik voorkom, maar ek weet vandag slaan ek my naam met ‘n plank! (of is dit ‘n 3 min plank?). Die instruktriese vra uit oor my fiksheidsvlak - ek noem dat ek al vir jare hardloop. Vinnig sou ek agterkom dat daardie woorde eintlik niksseggend is.
Ek sien al die apparaat - barrels, bricks, gewigte, b***e, reformers...
Ons begin.
En sy begin met: “Flex your feet. Now point your toes. Tabletop position. Okay, go into child's pose….” Vrou, ek struggle elke dag net om my eie pose te hou d**k ek by myself! Ek konsentreer hard – so baie nuwe terminologie. Bietjie te veel noise vir iemand wat elke dag alleen oefen.
Ons doen ʼn oefening wat vir my onbekend is. Ons lê plat op ons rug (hiervan hou ek), bene in die lug (oh oh, not good) en dan nog boonop sirkelbewegings (bietjie farfetched as jy my vra). Duidelik tyd vir maag oefeninge. My favourite – of nie! En dan begin sy tel: “Een......Twee…....Drie….....” Goeie bliksem d**k ek by myself. My kleuter tel dan vinniger tot by tien as die vrou! Uiteindelik(!) kom TIEN. Swaartekrag is eweskielik ekstra sterk en my bene val kliphard grond toe. Die vrou regs van my glimlag – wat ʼn vriendelike groep mense. Maar toe skree Me. Rottenmeier (ek oorreageer dalk effens hier) van voor: H O L D! Huh?! Ek kyk weer na die gawe Tannie langs my (wat toe minder gaaf lyk) en sien toe ek was eintlik veronderstel om die posisie te behou... VIR. NOG. Ň. VERDERE. 10. TELLINGS! Ag nee man (of vrou?), hierdie is verregaande. Maar ek maak asof dit my nie omver gooi nie en vinnig is my bene weer terug in die lug. Jy gaan nie hierdie Comrades-hardloper wen as dit kom by uithouvermoë nie! Game on!
OK, volgende posisie. Sy begin weer tel. Een..…Twee...…Drie..….En dan begin sy doodluiters gesels met iemand en vergeet ewe om verder te tel. Na ʼn laaaaang ruk vra sy ewe onbesorgd: “Waar trek ons nou?” Ek laat nie op my wag nie en skree kliphard: TIEN! Tot my verbasing aanvaar sy my antwoord. (groot sug van verligting) My ouers het my hoeka geleer om uit te kyk vir myself in die lewe. Duidelik worry die res van die groep nie veel oor hulle eie noodlot nie!
Ek kyk na die muurhorlosie en vir die eerste keer glo ek dat hy wel tog werk. Dit is 8h20! En toe sê sy daardie magic words: “It’s a wrap for today, people!” Music to my ears! Die mooiste melodie van haar (goeie) playlist.
Ek loop uit en d**k by myself – ek het dan skaars gesweet. Needless to say, pilates humbled me the next day, and the next day, and the next day, and….
'n Maand of so gaan verby waar ek book & cancel, book & cancel. Ek d**k die man aan die ander kant van die app d**k seker ek is vreeslik onbetroubaar. Maar ek is huiwerig om terug te keer want ek weet mos wat wag, so die entoesiasme is minder as voorheen. Maar terselftertyd wil ek ook nie opgee nie. Op ‘n dag kom daar ‘n epos deur. ʼn Nuwe cancellation policy. Jip ek het ‘n sterk vermoede dat my optrede die rede vir daardie nuwe policy is. Darem iets wat ek reggekry het, sê ek half sarkasties. Ek lees: “In future a penalty fee of R40 shall be levied, if you don’t cancel your session well in advance.” R40! Maw die koste van ‘n take away koffie. Dit laat my regop sit – kiertsregop! Apparently, posture is everything in pilates. Nee wag ʼn bietjie, niemand gaan raak aan my koffie-fonds nie! Dit is tyd om ernstig te raak en eerlik te wees met myself. Yes, the runner’s ego has taken a (big) knock. Maar ek onthou: “If you aren't willing to look like a foolish beginner you will never become a graceful master.” En embarrassment is the cost of entry… Ek maak die app oop en book ʼn (makliker) klas...
Vandag trek ek by les 46.
Die posisies raak al 'n bietjie meer haalbaar. Ek kry al selfs die roll over reg spog ek ewe by my 9-jarige. Sy reageer skaars - duidelik nie ʼn noemenswaardige prestasie in haar oë nie. Ons praat weer as jy middeljarig is Juffroutjie, sê ek onderlangs. My lae rugpyn is lank vergete en my hip flexors is al minder styf. Jy sal my nogsteeds in die agterste ry vind in die klas. En ja my pogings word dikwels nog gebruik as voorbeeld - ʼn slegte voorbeeld meestal. Ek kan nogsteeds nie altyd uithou tot by TIEN nie...en ek help haar nog elke dag getrou om vinniger te tel.
Maar ek wil myself verbeel dat my lyf al bietjie meer definisie het (want ek is nie so mal oor my sirkelagtige vorm nie). En ek hardloop natuurlik heelwat sterker! Ek, self erkende aanhanger van snooze knoppies staan deesdae selfs vroeër op vir my twee-weeklikse pilates fix.
En vanoggend oppad uit sê ek saggies vir die app-man: “Dit was lekker, dankie. Sien julle weer volgende week!” Hy glimlag en antwoord: “It is music to my ears.”