01/09/2026
Vandag was so ‘n bittersoet dag vir my. Ek het die voorreg gehad om ons boekie “My Maat Pieter” vir Sannieshof se kleuterskool te gaan voorlees. Dit was immers met dié maats in my agterkop wat ek die idee vir die boekie gekry het…
Terwyl ek lees van Pieter wat nie kan stilsit nie….loop hy rond tussen deur al die maats wat sit en aandagtig luister.
Terwyl ek lees van Pieter wat soms snaakse geluide maak….weerklink sy “aaaaahhhh” geluid deur die klas.
As ek vir die maats die gedeelte lees van Pieter wat net wit kos eet, knik hul hulle koppies.
Ek het sommer ‘n knop in my keel gekry…want nou verstaan hulle hom so ‘n bietjie beter.
Hulle besef dat dit “okay” is om anders te wees en dat maatjies wat anders is, ook deel mag wees van die klas…op hul eie manier.
Daar waar die pad nog duister is, sal God ‘n pad maak. Net soos wat Hy met die boekie vir my bly wys het waar om volgende te gaan en wat om volgende te doen. Al wens ek elke dag dat hierdie nie ons pad was nie….sien ek hoe God dit ten goede laat meewerk.
Ek kan na vandag met ‘n rustige hart sê, daar is ‘n hele paar kinders wat hul maat Pieter, beter verstaan.