Heartprints

Call Directions Website

Heartprints Pastoral and Christian Counsellor
Art Life Coach
Ecometrist

Sondag-Skimme.Sondagaand. Die huis is stil. Die skottelgoed is gewas, die TV is aan, sommer net vir die murmel... en dan...
18/10/2026

Sondag-Skimme.

Sondagaand. Die huis is stil. Die skottelgoed is gewas, die TV is aan, sommer net vir die murmel... en dan kom dit - daardie klein knop in die bors wat fluister: Maandag is op pad...

Daar's selfs 'n naam daarvoor. Die wêreld noem dit die "Sunday Scaries", ek noem dit Sondag Skimme 😏

Nou moet ek bieg: ek ken daardie knop gelukkig nie van binne nie. In my ouerhuis was Sondagaand meer soos 'n klein fees. Na kerk het my pa vir ons driehoek kaasbroodjies gemaak - en hy het die korsies afgesny, sodat ons net die lekkerte van die sagte broodjie kon voel.
My ma het die geborduurde tafeldoek oopgegooi en die mooiste koppies uitgehaal. Tee gedrink. Gesels. Almal tegelyk.

En as die laaste broodjie weg was? "Bring julle skoolskoene." Dan vryf Pa hulle blink terwyl ons die tasse inpak en skoolklere ophang. Teen bedtyd was die week sommer klaar gesorteer, sonder dat iemand die woord "angstig" ooit nodig gehad het.

Ek dink dis hoekom ek nooit Sondagaand blues geken het nie. Die introvert in my hou van daardie stop-teken. Die pouse. Ek dink graag oor die dieper goed as dit net ek en die stilte is.

Maar ek weet ek's in die minderheid. Meeste mense ken daardie knop. As jy vanaand een van hulle is: jy's nie swak nie en jy is nie alleen nie.

Ek het gaan oplees waar hierdie goed vandaan kom. En raai wie se skuld is dit? Henry Ford s'n! Toe hy sy fabrieke in 1926 op Saterdae toemaak, toe ontstaan die naweek soos ons dit ken. Maar elke geskenk het natuurlik 'n flipkant - en die flipkant van die naweek is daardie oorweldigende Sondagaand.

Die stilte van 'n Sondag maak ons diepste vrae wakker. Waaroor gaan my dae eintlik? Hoe spandeer ek my tyd? Daar is niks fout met ons nie - dis die siel wat na betekenis soek.

Moenie vanaand die knop wegpraat met 'n series en 'n selfoon nie. Miskien's hy nie 'n vyand nie. Miskien's hy net 'n boodskapper wat stil wil sit. Maak 'n koppie tee in jou mooiste koppie - jy weet, daardie een wat eintlik te mooi is om te gebruik - en pak die komende week een dingetjie op 'n slag uit. 'n Week wat uitgesorteer is, maak Maandag 'n bietjie ligter.

En as die knop week na week terugkom en nie wil loop nie: praat met my. Sit saam met my sodat ons jou kwellinge een vir een kan uitpak.

Die vrae wat Sondagaand kom, verdien 'n antwoord wat Maandag kan dra. 💛






"Hou my op hoogte…" 🙄Dis mos 'n gewone sêding in Afrikaans.  Maar iemand het dit dié week vir my gesê, en vir die eerste...
15/10/2026

"Hou my op hoogte…" 🙄

Dis mos 'n gewone sêding in Afrikaans. Maar iemand het dit dié week vir my gesê, en vir die eerste keer het dit my effens geïrriteer.

H-o-u... m-y... o-p... h-o-o-g-t-e...

Want as jy die woorde stadig uitpluis, beteken dit eintlik: "Ek sien jy spartel." "Dit lyk rof." "Ek is bly dis nie ek nie."

Só, terwyl jy probeer om nie te verdrink nie, moet jy asseblief jou arms ver bokant jou kop uitsteek en my op hoogte hou - want ék gaan nou rugby kyk. Ons braai. Ons eet by familie.

Vertaal: "Ek wil nie betrokke raak nie. Ek gaan nie uit my comfort zone nie. Om na jou te luister, stres my uit."

En hierdie weet ek: die meeste mense wat werklik moeilike omstandighede verwerk, is veel té gedaan om hulle arms op te lig vir updates of verslae. Hulle veg om net asem te haal.

Dus vir almal in die diep water: jy skuld niemand 'n "op hoogte" nie.

En dan die moeilike waarheid - sag gesê, want ek het self al aan die wal gestaan: dikwels is daardie woorde nie boos bedoel nie. Dis net mense wie se lewens nog nooit só omgekeer het nie, en wat nie weet hoe om by joune stil te staan nie. Dis makliker om aan te gaan met die lewe as om iemand se ellende regtig raak te sien. En so, sonder dat iemand dit beplan, word jy half gesien. Half verbygeloop. En van die wal af, hoflik en kalm, kom die stemmetjie: "Hou my op hoogte."

Die woorde kan ook vertaal word as: ek staan hier op die wal, effens hoër as jy, en loer soms oor die rand om te sien of jy nog bo is. Laat weet net hoe dit gaan - selfs voordat jou kop onder die water verdwyn.

En dan is daar die wat my hart die diepste raak: die mense wat ons álmal ken. Die wat glo. Die wat hard werk. Die wat elke reël in die boekie navolg - en tog, oor en oor, net 'n dwarsklap van die lewe kry. Hulle het nie vir hul lyding gevra nie, en tog moet hul uithouvermoë telkens weer bewys word, asof veerkragtigheid 'n eksamen is wat jy elke semester oorskryf.

Vir hulle is die water nie 'n houding of 'n keuse nie. Dis net die lewe wat aanhou reën.

Loop liewer verby. Of spring in. Of gooi 'n reddingsboei. Of sit net langs die water en bid.

Ek het Heartprints begin toe my kop onder die water was. Die resilience toets al 100 keer geskryf.
Ek gee om vir die mens wat voel dat hul gaan verdrink.

Heartprints gooi vandag vir jou 'n tou...

Ek sien uit om jou te ontmoet!!









"Ek kom!"Ek kry noodoproepe gewoonlik tydens besige tye, ongeleë tye, of in die middel van die nag.Nie van kliënte nie -...
08/10/2026

"Ek kom!"

Ek kry noodoproepe gewoonlik tydens besige tye, ongeleë tye, of in die middel van die nag.

Nie van kliënte nie - hulle volg professionele protokolle.

Ek praat van my mense. My geliefdes.

Meeste van die tyd weet ek nie wat wag op my nie, en ek weet nie noodwendig wat om te doen nie. Maar as die oproep kom, sê ek altyd:

"Ek kom."

Ek gryp my sak, pille, pajamas - en beslis parfuum, want dit laat my gereed voel.

Sommige mense raak geïrriteerd met my as ek myself dadelik beskikbaar maak vir iemand anders, maar ek steur my nie aan kritiek as dit oor my waardes gaan nie.

Want ek weet: ons is nie almal so gelukkig om 'n "ek kom"-persoon in ons lewe te hê nie.

Ek sien dit daagliks op die Heartprints-bank.

Die hartseer oor wat ‘hulle’ sê:

🌱 Wanneer jou hond of perd vir hul lewe veg, sê hulle: dis net 'n dier.

🌱 As jou ma wreedaardig sterf, sê hulle: sy het darem 'n vol lewe gelei. Of die pers maak haar 'n statistiek.

🌱 As jy jou werk verloor, sê hulle: gelukkig is jy goed gekwalifiseerd, jy het darem spaargeld.

🌱 As jy goed lyk, suksesvol is, 'n wye vriendekring het - wie glo dat jy sukkel met eensaamheid?

Hoekom moet ons altyd iemand se ervaring klein maak? Oplossings uitdink?
Geld na die probleem gooi?

Hoekom kan ons nie net sê: "Ek kom" nie?

"Ek kom" bring standvastigheid. Daar is iemand wat bereid is om saam met my asem te haal. Ek is nie heeltemal alleen nie.

En jy hoef nie altyd antwoorde te hê nie. Jy kan net jouself op die onseker plek neersit en sê:

"Ek kom."

Dink hierdie is hoekom Openbaring 22:20 so 'n diep sekerheid gee.
Jesus sê: "Ja, Ek kom gou" - en die gebed volg: "Amen, kom Here Jesus!"

As ek nie daardie sekerheid gehad het dat Hy kom nie, sou my hoop nie bestaan het nie.

Daardie sekerheid wil ek graag aangee. Op die Heartprints-bank, dag na dag, hoor ek hoe mense wil praat - wil uit hul beperkende denke kom, hul lewens wil aanpas.

As daar vandag 'n "ek kom"-plek in jou lewe oopstaan, weet: jy hoef nie alleen te wees nie.

Ek kom. 🌱

Ek moes al minstens twee keer  hierdie week iets gepost het.Skuldig! Guilty as charged.Voel dit vir julle ook asof hierd...
01/10/2026

Ek moes al minstens twee keer hierdie week iets gepost het.

Skuldig! Guilty as charged.

Voel dit vir julle ook asof hierdie jaar teen 'n spoed onder ons uitbeweeg? Ek het soveel los draadjies om bymekaar te trek ek voel regitg uit ritme.

Heartprints het op 23 September ons 5de verjaarsdag gevier en dit is vir my 'n besonderse mylpaal. Die besluit om vyf jaar terug uit 'n gevestigde werkplek te stap en my praktyk te begin was die beste besluit ooit.

Ek is baie dankbaar tenoor elke persoon wat hierdie droom saam met my bewaarheid het.

Ek kan nie wag om ou- en nuwe boude op die Heartprints bank te sien nie.

Dis moeilik as mense hul sessies by my voltooi het, tog weet ek in my hart dat hulle nou gelukkiger, gesonder en veiliger hul plek in die lewe volstaan.

Ek kan nie vir julle verduidelik hoe opgewonde ek is om Heartprints se grondgebied te vergroot en uit te brei nie.

Hierdie besluit beteken meer plekke, meer Heartprints banke en meer aanlyn sessies (meer hieroor 'n bietjie later).

Ek is eenvoudig nie 'n mens wat tussen lyne kan leef nie!

Daar is baie mense wat vasgevang voel in hul omstandighede en miskien nie die voorreg of geleentheid het om van rigting te verander nie, of bang voel vir die onbekende. Ek het begrip daarvoor. Vir julle maak ek baie meer aanlyn sessies beskikbaar.

Soms skep en beheer ons die lyne waarbinne ons leef. Vrees hou ons daar gevange. Daar is immers geen waarborg daar buite wat sekerheid kan bring vir enige nuwe besluite nie.

Ten spyte hiervan gaan ek spring en sal ek julle op hoogte hou van nuwe planne.

Kom spring saam met my!!!




"Ek voel oorweldig!"😵‍💫Weet jy hoeveel keer sê ek dié woorde myself, in dieselfde week dat my kliënte dit vir my sê? Wan...
25/09/2026

"Ek voel oorweldig!"😵‍💫

Weet jy hoeveel keer sê ek dié woorde myself, in dieselfde week dat my kliënte dit vir my sê? Want kom ons wees eerlik: die lewe is genadeloos. Ek het letterlik alles tot my beskikking om my lewe eenvoudiger te maak en te beplan - glo my, my iPad is my beste vriend - maar tog voel dit soms of ek agter myself aandraai.

Soms kom die skuldgevoel by:

🍀 ek kon meer doen
🍀 ek kon kalmer opgetree het
🍀 ek moes my admin lankal op datum gekry het
🍀 ek moes lankal begin het

en deesdae veral...

🍀 ek post te min op sosiale media.

Maar soms sit ek regtig vas tussen... wat post ek? Wat bêre ek vir later om te probeer verwerk?

Onlangs moes ek 'n moeilike besluit neem, om oor my eie ervarings te skryf. En die vrae het gestorm: Gaan dit kliënte aanmoedig... of hulle afsit? Hou jy die "probleme agter die masker” of staan jy in jou waarheid? Ek't gewonder - miskien moet die wêreld net die version kry wat lyk of alles in plek is. Maar my kliënte leer my een ding baie vinnig: hulle vertrou my nie as my lewe te perfek lyk nie. Vertroue kom deur egtheid - as jy nie weet hoe dit voel om te sukkel nie, kan jy nie help nie.

'n Voorbeeld wat ek gereeld in sessies gebruik om "ek voel oorweldig" te verduidelik: stel jou voor elke mens is 'n ander soort houer - 'n wynglas, 'n beker, 'n teelepeltjie. "Vol" beteken iets anders vir elkeen. Jy kan nie die teelepeltjie kwalik neem omdat hy oorloop terwyl die beker nog plek het nie. Dit werk maar dieselfde met mense. Elkeen dra hul probleme na aanleiding van die grootte van hul houer. Elkeen van ons dra 'n verskillende lading - en soms is 'n teelepeltjie-genade al wat jou deur die dag dra.

My kapasiteit is nie oneindig nie. Soms loop ek oor. En my eie lewe help my onthou, dit leer my om sagter na ander te luister.Ek't lank geglo ek moet my eie stories wegsteek. Maar onlangs het ek besef: die persoon wat voor my sit met trane wat dreig, soek nie 'n raadgewer met 'n foutlose lewe nie. Hul soek 'n mens wat weet hoe dit voel om snags wakker te lê met 'n hart wat swaar klop.

Ek het vir myself belowe: op hierdie bladsy wys ek nie net die blinkkant nie. Om oorweldig te voel, is deel van my storie - en dalk presies die deel wat jou help asemhaal.

Hoe lyk jóú glas vandag - byna vol, of het dit al oorgeloop?

Jou storie mag dalk iemand anders se asemhaling wees. Vertel my hieronder 👇







ek gaan deur my fotos om 'n paar te kies vir die rame wat ek geverf het,toe kom ek op hierdie een afagt jaar gelede...'n...
13/09/2026

ek gaan deur my fotos om 'n paar te kies vir die rame wat ek geverf het,
toe kom ek op hierdie een af
agt jaar gelede...

'n gelukkige dag!
'n ek loop die Camino dag!
'n ek is teen 'n berg uit dag!

daar sal weer só 'n dag kom
ek sal weer die Camino loop
en ek sal sorg dat ek elke oomblik
indrink
en ek sal wyd lag
en my hande
hoog
in
die lug
opgooi


'n Ma se verdriet... My kleindogter het verlede week Graad 1 begin. Sy is in 'n nuwe land, 'n nuwe skool, met 'n nuwe ta...
09/09/2026

'n Ma se verdriet...

My kleindogter het verlede week Graad 1 begin. Sy is in 'n nuwe land, 'n nuwe skool, met 'n nuwe taal. Die klein kleuterbussie is nou vervang deur 'n gemengde skoolbus met kinders van alle ouderdomme.

Die eerste drie dae was opwindend, maar ek het geweet dat hierdie week nie so maklik gaan wees nie. Maandag was daar bietjie trane en "Can I stay with ouma for one day?" - maar gister kry ek die boodskap:

"Today was worse than yesterday; had to physically place her in the bus and leave. She actually came off the bus and refused to go on."

Toe my dogter hierdie boodskap stuur, breek my hart in stukke.

Die verdriet van 'n ma.

Later stuur ek vir haar 'n boodskap:
"You were brave today. It is difficult but you made the right choice to leave. She will find her rhythm, just give it some time. This is the first time that you feel your arms are too short to protect your child."

Dit is 'n ma se stille verdriet.

My eie gedagtes het natuurlik teruggegaan na my eie lewe. Ek het onthou dat altwee my kinders in Graad 8 vir die eerste keer gesukkel het om skool toe te gaan. Gerhard het koshuis toe gegaan en ons het hom in die kattebak uitgesmokkel (direk Wimpy toe!) as die trane vlak was. Charlotte het geweier om uit te klim by die skool en die hele dag onder my lessenaar by die werk gelê. Ons moes deurdruk en aangaan terwyl my hart gebrand het van jammerte.

Ek skryf verder vir haar:
"You are teaching her to find her own strength. This process will help her to find her own identity. Your pain, tears and courage will teach your daughter to be brave. I am so proud of you, but my arms are too short to comfort you today."

'n Ma se verdriet.

Ek weet dat jy ook soms voel asof jou hart wil breek. Dit kan wees oor jou kind, jou volwasse kind, jou hondekind, jou vriendin, of jouself.

"These are the times I speak to God. Not pray, but speak. He can reach where our arms are too short."

Ek weet ook dat dit nie altyd pleisters op 'n seer hart plak nie.

Jy het altyd 'n plek op die Heartprints-bank. Kom deel jou verdriet met my. 💛

ek loop en dink vandagdis asof ek myself van vêr af sienouerstilleren ordentlik plat op die aardeek het tyd gemors, dink...
05/09/2026

ek loop en dink vandag

dis asof ek myself van vêr af sien
ouer
stiller
en ordentlik plat op die aarde
ek het tyd gemors, dink ek
en dít op nonsens

maar dit is goed so
ek sien die wêreld nou heeltemal anders
en ek waardeer die mense
wat my liefhet
dít beteken ek is
vry

Goeie besluite kan ook toksies raak.Mens kom dikwels te staan voor keuses, of geleenthede. Die bang en hoop trek tou om ...
04/09/2026

Goeie besluite kan ook toksies raak.

Mens kom dikwels te staan voor keuses, of geleenthede. Die bang en hoop trek tou om te help om die finale besluit te neem.
Ek praat nie vandag oor slegte besluite nie. Ek wil fokus op goeie besluite - die beste keuse wat jy kon maak, op die oomblik, met die inligting wat aan jou bekend was.

Daar is ’n fantastiese werksaanbod. ’n Geleentheid om in Italië te stap. ’n Nuwe vriend om te leer ken. ’n Kerk wat uitreikwerk doen. ’n Kursus wat jy kan bywoon. ’n Man of vrou waarmee jy wil trou...

Eers bekyk jy die geleentheid vanaf ’n afstand. Dan onthou jy al die kere wat jy verkeerde besluite geneem het – en tree jy drie tree terug. Maar dan kyk jy weer. Die ding raak al hoe mooier. Jy begin uitsien.

Op ’n goeie dag neem jy die besluit.
Jy aanvaar die werk. Jy raak betrokke. Jy raak verloof en trou. Jy is gelukkig. Die wêreld lyk kleurvol en positief.

Dan, so mettertyd, begin die prentjie skeef trek. Die werksplek het daardie een boelie-baas wat almal regop laat sit. Die kerk wend nie die geld aan soos wat jy geglo het hulle doen nie. Die een wat jy liefhet begin drink op naweke, of spandeer meer tyd met die foon as met jou.

Jy is ewe skielik meer eensaam as wat jy was voordat jy hierdie geleenthede aangeneem het.

Dan begin die self-twyfel: Miskien is ek jaloers op my kollega. Dalk is ek die party-pooper. Almal by die kerk lyk so gelukkig en gemotiveerd... wat is fout met my?

Jy begin jouself bietjie aanpas. Jy raak selfkrities. Op ’n goeie dag voel jy donker, en dit is moeilik om positief te bly.
Jy baklei met die Here: "Ek het so hard gebid vir hierdie werk, hierdie persoon – hoekom voel iets dan nou verkeerd?"

Jy onthou: Mens gee nie net op nie. Jy werk bietjie harder. Miskien sal die baas sien dat jy jou KPI’s oortref. Die kerk bestaan al vir jare – miskien weet jy nie presies wat hulle alles agter die skerms doen nie. Dit kan nie wees dat hierdie persoon wat ek so bitter liefhet, pornografie verkies nie...

Almal vertel jou: "Jy het die jackpot geslaan."

Dis hier waar die besef posvat:
Goeie besluite – die beste keuse wat jy op daardie oomblik kon maak – kan ook toksies raak. Jy kon nie die skadukante sien toe jy die besluite moes neem nie. Nou sien jy die groter prentjie, en dinge maak nie sin nie.
Jy het dalk ’n fout gemaak.

Wat doen jy nou?

As jy vandag in ’n ruimte is waar besluite jou meer vrae as antwoorde gee, of as die donker gevoel te swaar begin voel – jy hoef nie alleen te wees nie.

Heartprints is daar om na jou te luister, sonder oordeel. Stuur ’n boodskap, maak ’n afspraak, of kom praat net. Saam kan ons die pad vorentoe vind. 💙










Ek word ouer, ek is nou 'n rolbos. 🌿  🌿   🌿Ek het onlangs eers behoorlik gedink oor hoe 'n rolbos eintlik werk - en dit ...
28/08/2026

Ek word ouer, ek is nou 'n rolbos. 🌿 🌿 🌿

Ek het onlangs eers behoorlik gedink oor hoe 'n rolbos eintlik werk - en dit het my diep geraak. Dis nie 'n dooie, nuttelose bos wat net deur die wind rondgegooi word nie. Dis iets met 'n laaste, belangrike doel.

En ek besef dit is eintlik die storie van my lewe ook.

Eers was daar die groei.
Die jare wat ek gebou het, vertak het, moedig gebly het. Ek het my wortels gegrawe en my plek gevind. Ek het geleef en volwasse geraak.

Dan kom die droogtetyd.
Die dinge wat nie meer nodig is nie, val weg. Die geveg om te bewys, die behoefte om relevant te bly - dit word bros en los. En dis oukei.
Dis die natuur.

Dan kom die losbreek.
Ek is besig om die laaste dinge wat my nog vashou, stadig los te laat. En dit maak my nie meer so bang soos vroeër nie.

En dan kom die rondwaai.
Die lewe en omstandighede het my stelselmatig gevorm - deur die wind wat my gebuig en gedraai het - dat ek nou 'n mooi ronde vorm het.
Sag en vol.

En ek besef: dis nou my tyd om te rol.

Om doelbewus deur die wêreld te beweeg en my saad uit te skiet

🌿 die wysheid wat ek geleer het
🌿 die sagte oor wat kan luister
🌿 die hand wat kan help
🌿 die hart wat kan liefhê

Ek word nie meer vasgehou deur my eie behoeftes nie. Ek kan nou gee, so ver as wat die wind my dra.

Totdat ek tot rus kom. Uitmekaar. Stilte. Vry.

Ek dink dis 'n mooi manier om oud te word. Ek word nie minder nie - net 'n ander soort meer. ❤️

As jy my pad kruis, moenie verras wees as ek iets vir jou agterlaat nie. Dis mos wat rolbosse doen. 🌬️

🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿 🌿

Gesels gerus met my as jou lewe nie sin maak op die oomblik nie.
Kom ons kyk of jy dalk in een van hierdie fases is.
As jy weet wat met jou gebeur, as die gesukkel ‘n doel dien kan jy jou kop oplig.












Address

582 John Scott Street, Constantia Park
Pretoria

Opening Hours

Monday 09:00 - 16:00
Tuesday 09:00 - 16:00
Wednesday 09:00 - 18:00
Thursday 09:00 - 16:00
Friday 10:00 - 16:00
Saturday 11:00 - 15:00

Telephone

+27790431646

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Heartprints posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share