04/09/2026
Goeie besluite kan ook toksies raak
Mens kom dikwels te staan voor keuses, of geleenthede. Die bang en hoop trek tou om te help om die finale besluit te neem.
Ek praat nie vandag oor slegte besluite nie. Ek wil fokus op goeie besluite - die beste keuse wat jy kon maak, op die oomblik, met die inligting wat aan jou bekend was.
Daar is ’n fantastiese werksaanbod. ’n Geleentheid om in Italië te stap. ’n Nuwe vriend om te leer ken. ’n Kerk wat uitreikwerk doen. ’n Kursus wat jy kan bywoon. ’n Man of vrou waarmee jy wil trou...
Eers bekyk jy die geleentheid vanaf ’n afstand. Dan onthou jy al die kere wat jy verkeerde besluite geneem het – en tree jy drie tree terug. Maar dan kyk jy weer. Die ding raak al hoe mooier. Jy begin uitsien.
Op ’n goeie dag neem jy die besluit.
Jy aanvaar die werk. Jy raak betrokke. Jy raak verloof en trou. Jy is gelukkig. Die wêreld lyk kleurvol en positief.
Dan, so mettertyd, begin die prentjie skeef trek. Die werksplek het daardie een boelie-baas wat almal regop laat sit. Die kerk wend nie die geld aan soos wat jy geglo het hulle doen nie. Die een wat jy liefhet begin drink op naweke, of spandeer meer tyd met die foon as met jou.
Jy is ewe skielik meer eensaam as wat jy was voordat jy hierdie geleenthede aangeneem het.
Dan begin die self-twyfel: Miskien is ek jaloers op my kollega. Dalk is ek die party-pooper. Almal by die kerk lyk so gelukkig en gemotiveerd... wat is fout met my?
Jy begin jouself bietjie aanpas. Jy raak selfkrities. Op ’n goeie dag voel jy donker, en dit is moeilik om positief te bly.
Jy baklei met die Here: "Ek het so hard gebid vir hierdie werk, hierdie persoon – hoekom voel iets dan nou verkeerd?"
Jy onthou: Mens gee nie net op nie. Jy werk bietjie harder. Miskien sal die baas sien dat jy jou KPI’s oortref. Die kerk bestaan al vir jare – miskien weet jy nie presies wat hulle alles agter die skerms doen nie. Dit kan nie wees dat hierdie persoon wat ek so bitter liefhet, pornografie verkies nie...
Almal vertel jou: "Jy het die jackpot geslaan."
Dis hier waar die besef posvat:
Goeie besluite – die beste keuse wat jy op daardie oomblik kon maak – kan ook toksies raak. Jy kon nie die skadukante sien toe jy die besluite moes neem nie. Nou sien jy die groter prentjie, en dinge maak nie sin nie.
Jy het dalk ’n fout gemaak.
Wat doen jy nou?
As jy vandag in ’n ruimte is waar besluite jou meer vrae as antwoorde gee, of as die donker gevoel te swaar begin voel – jy hoef nie alleen te wees nie.
Heartprints is daar om na jou te luister, sonder oordeel. Stuur ’n boodskap, maak ’n afspraak, of kom praat net. Saam kan ons die pad vorentoe vind. 💙